Agri Megaweek vind jaarliks plaas by die Megapark in Bredasdorp. Die Expo is geskep om verskillende aspekte van die landboubedryf bekend te stel. Geskiedenis van Agri Megaweek dateer terug tot 1993, toe dit begin het as ‘n boeredag. Sedert Agri Mega se nederige ontstaan, het dit gegroei tot ‘n jaarlikse instelling en uitgebrei tot ‘n groter Expo in 2003. Dit is nou een van die grootste Expo’s van sy soort in die Suidelike streek van die land. Megaweek is ‘n Expo wat fokus op landbou-onderneming in die graan, suiwelprodukte, wol- en vleisnywerhede. Dit is ‘n platform vir die oordrag van vars kennis en die nuutste tegnologie en landbou-inligting wat van waarde sal wees vir al die deelnemers en besoekers. Die Overberg is ‘n uiters lewensvatbare landbougebied en Agri Mega het ten doel om die produsente, verskaffers en algemene publiek bymekaar te bring om volhoubare landbou te bevorder. Die gewildheid van hierdie gebeurtenis groei elke jaar en is deur ongeveer 26 000 mense besoek en byna 500 uitstallers het uit gestal. Daar was weer ‘n verskeidenheid van die daaglikse aktiwiteite by Agri Megaweek vanjaar, soos vee uitstallings, ras aanbiedings, masjienerie uitstallings, asook demonstrasies op skaapskeer, snoei, voeding en melk. Daar was ook verskeie interessante gesprekke en besprekings.
Agricol se stalletjie was weer opgestel in die Total saal. Herman Walters en Dirk Hanekom het alreeds die vorige dag gesorg dat die stalletjie kleurvol opgemaak was met baniere en vlae. Die hele Agricol-reeks was uitgestal d.m.v. kleurvolle pamflette. Jackie Swart, Karla Greeff, Farida Martin, Ian van den Heever en Christof Muller het met tye diens gedoen en kliënte van advies voorsien. Jackie het gepoog om daagliks kliënte buite die stalletjie te werf deur die uitdeel van die canola kompetisie-pamflette. Karla het haar ook Saterdag bygestaan met die projek. Dankie vir ieder en elk se bydrae vanjaar om die maksimum blootstelling te probeer verkry.
Jackie het op kort kennisgewing voorgestel dat ons die volgende gelukkige trekking moet loods. Die eerste prys was ‘n 750 ml bottle KWV 3-jaar brandewyn en ‘n 750 ml KWV Shiraz 2014. Die tweede prys was ‘n 750 ml Laborie Merlot Cabernet Sauvignon 2012. Die gelukkige trekking is gehou op Saterdagmiddag om 12:00 en Mnr. Charl de Wet van Waboomskloof, Caledon was die wenner. Mnr. Jurianne Schrëuder, Theefontein, Hopefield was die naaswenner. Hierdie kompetisie was ‘n besonderse trekpleister vir besoeke aan die Agricol stalletjie.
Ons leef in ‘n digitale era, maar mense koop steeds van mense en die ekspo bied besighede ‘n unieke bemarking voordeel – die geleentheid om te ontmoet, in verbinding bly en bou van verhoudings met bestaande en toekomstige kliënte.
Sien hiermee die foto van Juanine de Wet wat die tweede prys in ontvangs geneem het. Sien ook die foto van Richard Delamarrre (Besturende Direkteur van Hohing Industries Ltd.), wat die trekking van die pryse hanteer het, asook ‘n foto van Ian wat Oakdale seuns van inligting voorsien.
Artikel geskryf deur Jan Botes, 10 Oktober 2016