deur Cornel Cronjé.
Plantain, ook bekend as Plantago lanceolate, is ʼn meerjarige kruigewas wat aangepas is vir ʼn wye verskeidenheid grondtipes en klimaatstoestande.
Hierdie kruigewas het ʼn digte en diep wortelsisteem en produseer weiding wat geskik is om aan skape en beeste te voer.
Plantain kan in die herfs- en lentemaande gevestig word, afhangende van die verskillende produksietoestande en streke in Suid-Afrika.
Dit kan sterk oorweeg word waar genoegsame gehalteweiding in die wintermaande verlang word.
Plantain funksioneer goed in kombinasie met ander gewasse soos raaigras om die weidingsgehalte deur die jaar te versprei.
Dit beskik ook oor die vermoë om baie goed en vinnig te herstel ná stremmingsperiodes.
Navorsing toon dat plantian ’n baie positiewe invloed op melkproduksie het wanneer die gehalte van grasweidings gedurende die somertydperk afneem.
Agricol se eksklusiewe plantain-kultivar, Tonic, is hoofsaaklik in die winter, herfs en vroeë lente aktief, maar lewer ook steeds produksie tydens die somermaande.
Tonic is ʼn regopgroeiende kruigewas wat goed kan inpas by verskeie weidingsisteme.
Die regop groeiwyse maak dit geskik om in kombinasie met ander gewasse te vestig.
Die gewas se goeie hergroeieienskappe maak dit ook uiters geskik vir beweiding.
Tonic is sterker meerjarig as ander kruigewasse, en kan tot drie seisoene lank goeie oorlewing en produksie toon.
Dit maak Tonic ʼn uitstekende gewas vir inplantingsdoeleindes, waar bestaande weiding met swak winterproduksie voorkom.
Tonic se hoë smaaklikheid en mineraalrykheid maak dit ʼn goeie opsie vir baie weidingsisteme.
Sleutelpunte vir die suksesvolle verbouing van Tonic plantain:
• Plant Tonic op ’n diepte van sowat 1 cm tot 1,5 cm.
• Dit is baie belangrik om gereeld die weiding te monitor en te ondersoek vir insekskade.
• Eerste beweiding moet eers geskied wanneer Tonic ses volwasse blare ontwikkel het.
• Strookbeweiding is die effektiefste vir oorlewing asook vinnige hergroei.
• Bewei Tonic op ’n hoogte van 20 cm tot 25 cm en onttrek die vee by ʼn hoogte van 5 cm.