Agricol Swellendam -tak het reeds amptelik 1 Desember geopen. Die voorrade het egter eers op 13 Desember 2016 ge-arriveer. Jan Botes is die Verkope Bestuurder en Gordon Bedwell sal vanaf Januarie 2017 vir die tak se logistiek en stoorvoorraad verantwoordelik wees, asook vir sommige administratiewe funksies. Die depot is geleë in Koringlandstraat oorkant Nexus – dieselfde straat waarin Sentraal Suid Kooperasie, asook SOIL geleë is.
Die streek strek vanaf Botrivier in die weste- tot by Albertinia in die oostekant. Die noordelike grens is Worcester, Montagu en Barrydale. Die suide strek tot by A’gulhas, wat die mees Suidelike punt van Afrika is.
Die streek bestaan uit oorwegend canola, Faba bone, kleingrane, lusern en medics wat droëland verbou word. Onder besproeing word mielies, weidings, sojabone, ens. verbou.
Swellendam het ook ‘n ryk geskiedkundige agtergrond.
Swellendam is in 1745 gestig en is die vierde oudste landdrosdistrik in Suid–Afrika. Die dorp is vernoem na die Kaapse goewerneur, Hendrik Swellengrebel, die eerste goewerneur wat in die Kaap gebore is. Die dorp is op die walle van die Koringlandsrivier gebou. Die eerste kerk is in 1802 gebou. Die dorp word as die bakermat van Suid-Afrika se merinobedryf beskou. Die eerste twee ramme en vier ooie van die beroemde Escorial stoetery in Spanje het in 1789 in die Kaap aangekom en sommige van hulle afstammelinge is in 1803 na Swellendam gebring. Hier is hulle met sukses met die Kaapse vetstertskaap gekruis.
Baie sierlike geboue uit die ou dae het behoue gebly. Die ou Drosdy-gebou is ‘n pragtige voorbeeld van die destydse Kaaps-Hollandse argitektuur en dien vandag as ‘n kultuurhistoriese museum. Die Nederduitse Gereformeerde kerk met sy vier argitekstyle is in 1910 op die perseel van die eerste kerk ( 1802 ) gebou. Die kerkie van St. Lucas dateer uit 1865. Ander belangrike historiese geboue sluit in Morgenzon, die Olyfkrans Kollege-gebou, die Residensie, Rothman-huis en die Oefening-huis.
Die dorp is naby die Breederivier geleë, en gesetel aan die voet van die Langeberg. Die nasionale Bontebokpark by Swellendam is in 1931 gestig en is ‘n groot toeriste-attraksie.
Kom loer gerus by ons in indien jy in die omgewing is!
Vriendelike groete
JAN BOTES