JAN BOTES, gewasbestuurder: Kanola, Agricol

Kultivarbeplanning vorm ‘n integrale deel van die resep vir suksesvolle kanolaproduksie.
Die besluitnemingsproses word dikwels gebaseer op slegs ‘n paar faktore soos opbrengsdata, saadkoste en onkruidbeheerstrategie.
Daar word egter verskeie ander belangrike aspekte geïgnoreer wat wel die uiteindelike totale opbrengs per hektaar kan beïnvloed.
Die Wes- en Suid-Kaap se seisoene verskil jaarliks en eksterne faktore soos reënvalpatrone en temperature tydens die blomtydperk het ‘n groot invloed op die sukses van kanola-aanplantings.

In die areas waar reënval normaalweg vroeg afsny, moet daar verkieslik kortgroeiseisoenkultivars geplant word.
Die verspreiding van plantdatums en die plant van kultivars met verskillende groeiseisoenlengtes vergemaklik die stroopproses omdat verskillende aanplantings op verskillende tye stroopgereed sal wees.
Laasgenoemde is belangrike oorwegings by kanolaproduksie aangesien oesverliese ‘n direkte impak op winsmarges het.
Onkruidstatus en -beheerstrategie, kampgeskiedenis en die wisselboustelsel wat gevolg word, het ook ‘n belangrike invloed op die kultivarkeuse wat gemaak word.

Dit is veral belangrik om te besluit watter chemie gebruik gaan word en om bewus te wees van die swartstamweerstandsgeen van die beskikbare kanolakultivars.
Die swam wat swartstam op kanola veroorsaak, het ‘n geslagtelike voortplantingswyse en is derhalwe baie effektief om die genetiese weerstand van kultivars te oorkom.
Daarom word dit aanbeveel om kultivars met verskillende weerstandsgene af te wissel.
In die praktyk, net soos chemie afgewissel word om die effektiwiteit van middels teen onkruide te beskerm, moet ‘n produsent ook die weerstandsgeen van kultivars in ag neem by kultivarkeuse ten einde te verseker dat die weerstand van kanola teen swartstam behoue bly.

Raadpleeg die Wes- en Suid-Kaap se nasionale kanolakultivarre sultate in die spesifieke omgewing en vergelyk die nuutste opbrengste met die vorige vergelykende jare.
Ondersoek ook data vanuit opbrengste behaal uit demonstrasieproewe wat op groter skaal aangeplant is.
Deeglike beplanning van kultivarkeuse is van uiterste belang en het ongetwyfeld van alle besluite wat die produsent neem die grootste invloed op produksie.
Alle faktore, nie net die opbrengssyfers nie, moet in ag geneem word ten einde die maksimum potensiaal te ontgin uit elke hektaar kanola wat op die plaas gesaai word.

Risikopakket

Agricol beskik oor ‘n reeks van kultivars wat aan verskillende behoeftes van kanolaprodusente voldoen.
Die kultivar Agamax (konvensionele baster) het die vermoë om moeilike produksietoestande beter te hanteer as gevolg van sy goeie droogteweerstand – dit was ook duidelik sigbaar tydens die afgelope seisoen.
Agamax is definitief ‘n staatmakerkanolabaster en daar is oor verskeie jare beproefde data ingesamel wat die opbrengsstabiliteit van hierdie kultivar sterk beklemtoon.
Tango (konvensionele baster), wat ‘n ultrakortgroeiseisoen het, bied verdere verskansing teen reënval wat vroeg kan afsny, maar bied ook die addisionele voordeel dat dit vroeër as ander kultivars oesgereed sal wees en kan só die produsent se druk tydens oestyd verminder.

Tango het ook die afgelope seisoen (2017) die tweede posisie in beide die Wes- en Suid-Kaap se konvensionele kanolakultivarevaluasie behaal.
AV Garnet (oopbestuifde konvensionele kultivar), wat gewild onder kanolaprodusente is, is ‘n stabiele kultivar met ‘n hoëop brengspotensiaal.
AV Garnet se saadprys in vergelyking met dié van ander kanolabasters maak dit ‘n baie aanloklike keuse vir die produsent.
Die nuutste toevoeging tot die maatskappy se kultivarpakket, Diamond (konvensionele baster), het tydens die afgelope 2017- seisoen weer eens die grense verskuif wat opbrengs betref.
Diamond was die kultivar wat die hoogste gemiddelde opbrengs in die konvensionele groep gelewer het in beide die Wes- en Suid-Kaap.

Die aanpasbaarheid van die kultivar is sonder gelyke. Diamond het ‘n kort- tot mediumgroeiseisoen en vaar nie net goed in areas waar die reënval neig om vroeër af te sny nie.
Die opbrengste is baie kompeterend in vergelyking met dié van langgroeiseisoenkultivars.
Die individuele opbrengste behaal by die onderskeie proeflokaliteite die afgelope seisoen bevestig verder die vermoë van Diamond om topopbrengste, ongeag omgewingstoestande, te kan lewer.
Atomic (triasien weerstandbiedende baster) is die vlagskip kultivar in Agricol se kanolapakket. Triasien weerstandbiedende kultivars kan gebruik word in lande waar breëblaaronkruide en sekere eenjarige grasse ‘n groot probleem is.
Agricol se kanolapakket is die eerste tree in opbrengs sukses.

Skakel gerus een van ons takke in die Wes- en die Suid-Kaap vir verder inligting.