Hawer (Avena sativa) is ‘n veelsydige kleingraan wat in die verlede grootliks vir die graanmark aangeplant is.
Weens die gewas se goeie voedingswaarde, word dit deesdae grootliks as ‘n weidingsgewas aangeplant.
Veeprodusente kan hawer, wat ‘n hoë voedingswaarde het en relatiewe goeie hergroei-eienskappe besit, aanplant om voldoende groenvoer vir die winter te produseer.
Wintergraangewasse soos hawer word jaarliks regdeur Suid-Afrika in groot hoeveelhede aangeplant as winterweiding vir skape, bokke en beeste.
Kleingrane sluit die volgende gewasse in: Hawer, korog en stoelrog, koring en gars. Hawer kan in verskillende groeiklasse gedeel word, naamlik lente- (kortgroeier), intermediêre (mediumgroeier) en wintertipes (langgroeier).
Hawer wat in die lentetipe-groeiklas val, is nie baie kouebehoeftig nie en sal vinniger weigereed wees as wintertipes.
Hierdie tipes produseer egter nie groot volumes voer nie en moet ook digter gesaai word, aangesien hul stoelvermoë laer is as dié van wintertipes.
Indien weiding baie vinnig benodig word, sal dit raadsaam wees om ‘n gedeelte van die aanplanting met lente-tipes te plant.
Intermediêre- en wintertipeshawer het ‘n lang kouebehoefte (vernalisasie periode) voordat dit reproduktief raak.
Intermediêre en wintertipes hawer produseer groter volumes voer as gevolg van hul stoelvermoë en kan tot laat in die seisoen produseer.
Plantdatums moet verkieslik versprei word om te verseker dat al die aanplantings nie gelyktydig gereed is om bewei te word nie.
Beplanning is van uiterste belang. Die saaidigthede van lentetipes onder droëlandtoestande is 25 kg/ha tot 50 kg/ha en onder besproeiing 75 kg/ha tot 125 kg/ha (afhangende van die mate van besproeiing).
Intermediêre en wintertipes se saaidigthede is ook 25 kg/ha tot 40 kg/ha onder droëlandtoestande en 75 kg/ha tot 125 kg/ha onder besproeiing (afhangende van die mate van besproeiing).
Die vestigingstyd sal van streek tot streek wissel, maar is normaalweg van middel Februarie tot middel Mei. In die koue areas eindig planttyd einde April.
Hawer kan ook met verskeie gewasse (insluitende peulgewasse) gekombineer word om produksie te verhoog en die verskeidenheid voer inname deur vee te verhoog.
Hierdie gewasse sluit in Japannese radyse, weiwieke en Persiese klawer.
Kultivars
Agricol is bekend as die leier in somer- en winterweidingsgewasse.
Produsente kan staatmaak op die volgende hawerkultivars vir volhoubare voervloei hierdie winter:
Pallinup en Dunnart
Hierdie lentetipe hawers is gewoonlik weigereed ses tot agt weke na plant. Hulle word gekenmerk deur dikker plante wat minder spruite produseer.
Pallinup en Dunnart kan gebruik word vir beweiding, kuilvoer en hooidoeleindes. Pallinup en Dunnart se graan is ook geskik vir die maak van ontbythawer.
Overberg
Wat ‘n intermediêre-tipe hawer betref, is Overberg in ‘n klas van sy eie. Die kultivar het ‘n laer kouebehoefte as ‘n egte wintertipe en sal ook vroeër begin produseer.
Overberg is geskik vir produksie onder droëland en besproeiing.
Magnifico
Hierdie egte wintertipe hawer het ‘n hoë kouebehoefte en produseer normaalweg smaaklike weiding vanaf Mei tot einde September.
Een van die kultivar se groot voordele is sy hoë-opbrengspoten siaal.
Magnifico kan gebruik word vir beweiding, kuilvoer en hooiproduksie.
Kleingrane
Die volgende kleingrane is ook belangrik vir winterweiding:
Stoelrog (Agriblue en Echo)
Dit is ‘n eenjarige wintergraangewas wat laat in die somer gevestig kan word. Stoelrog word meestal gebruik as groenvoer vir die winter tot vroeë lente.
Daar bestaan drie tipes stoelrog naamlik kort, medium en lang rotasietipes.
Korog (Rex, Ag Beacon, Ag Marcell en Cloc1)
Hierdie kruising tussen koring en rog word hoofsaaklik as ‘n wei- of voergewas gebruik.
Korog kan geklassifiseer word as ‘n lente- of wintertipe kleingraan wat aangepas is by die meeste omgewingstoestande en grondtipes.
Rex, Ag Beacon en Ag Marcell is Agricol se lentetipe-korogkultivars terwyl Cloc1 ’n ware wintertipe is.
JOUBERT SWANEPOEL, Agricol
Hawer gereed vir beweiding.
Grafiek 1: Piekproduksiefases van verskillende kleingrane gebaseer op ‘n middel Maart-plantdatum.