Agricol se kanola kultivarpakket het die afgelope seisoen weer wyd welslae behaal in die kanola-streek. Jan Botes, kanolagewasbestuurder by Agricol vertel van verskeie produsente se suksesverhale.
Diamond, die juweel van die Agricol kanola pakket het in 2018 ’n rekord-kanola opbrengs van 3.437 ton tydens die Proteïnnavorsingstigting (PNS) se opbrengskompetisie per hektaar behaal.
Melt van der Westhuizen van die plaas Klipheuwel naby Moorreesburg was die wenner van hierdie gesogte kompetisie.
Melt het sy kanola op 21 April verlede jaar teen ’n plantdigtheid van 3 kg per hektaar in ’n kamp van 34 hektaar geplant.
Jaco Kriel van die plaas Eendrag op Porterville het eindelik geluk aan sy kant gehad met goeie reënvalsyfers die afgelope seisoen. Sy kanola pakket het die afgelope seisoen bestaan uit Diamond, Tango en Atomic TT.
Jaco het ’n gemiddeld van 2.76 ton/ha op Tango, 2.77 ton/ha op Diamond en 2 ton/ha op Atomic behaal. Hierdie drie kultivars sal weer deel wees van Jaco se beplanning vir 2019.
Jaco was verras met Tango en sê die baster help uit waar reën vroeg afgesny word. Hy voel Tango staan Diamond goed by vir die rede dat dit ’n vinniger groeier is.
Jaco sê ’n groot voordeel van die kanolabaster, Diamond, is die spoed waarmee die baster uit die grond ter voorskyn kom en ontwikkel.
Die kultivar se blomtydperk is relatief lank wat goeie bestuiwing positief beïnvloed het. Hy sê dat Diamond stroop ook baie maklik.
Jaco plant die TT-baster Atomic, aan op lande waar daar breëblaaronkruid probleme is en hou van die sukses wat hy
daarmee bereik deur sy lande skoon te kan hou. Atomic TT is ’n langer groeier met ’n goeie opbrengspotensiaal.
Rennie Brink van Groot Phisantekraal Boerdery naby Durbanville het ’n gemiddelde opbrengs van 2.5 ton/ha met sy kanola kultivars behaal. Volgens Rennie doen die kanolabasters, Diamond en Agamax, die beste op sy plaas wat opbrengs aanbetref.
Hy sê dis Belangrik om betyds te spuit ten einde plae en siektes te beheer, aangesien dit ’n groot invloed op opbrengste kan hê.
Diamond het die beste opbrengs getoon met 3.1 ton/ha gevolg deur Agamax met 3 ton/ha. Die plantdigtheid van die twee kultivars was 3 kg/ha.
Pierre du Plessis van die plaas Grootzanddrift in die Bredasdorp area het 1.95 ton/ha op Diamond gerealiseer op 100 ha ten spyte van relatief min reën in die eerste helfte van die seisoen en redelike windskade.
“Ek sal beslis weer Diamond plant, omdat dit nog altyd ’n goeie opbrengs gelewer het en heelwat korter groei as van die ander kultivars. Diamond is beslis die beste kortgroeier nou beskikbaar.
Dit help ook dat produksie prosesse beter ingepas kan word, soos veral die platsny.”
Josias le Roux van die plaas Langhoogte naby Botrivier het 294 mm reën gedurende die groeiseisoen gehad. Hy het reeds vanaf 24 April Diamond en Atomic gevestig teen 3.5kg/ha.
Diamond en Atomic se gemiddelde opbrengs was onderskeidelik 2.64 ton/ha en 2.17 ton/ ha na aftrekkings. Josias se grootste uitdaging vanjaar was die hittegolf en die sterk winde wat van die kampe tydens oestyd getref het.
Hy is baie dankbaar vir hoe die oes afgeloop het ten spyte van die uitdagings en sal beslis Diamond en Atomic aanbeveel. Atomic (triasien weerstandbiedende baster) maak dit vir Josias moontlik om breëblaaronkruide en eenjarige grasse in kanolalande te beheer.
Diamond se uitstaande opbrengsvermoë en die eienskap dat die kultivar vinnig kan “klaarmaak”, het vir Josias baie beïndruk.
Franco le Roux, Klipdale boerdery Klipdale: Alpha TT, die nuwe toevoeging tot die Agricol kanolakultivar reeks was in 2018 deur Franco beproef.
Die groeikragtigheid en staanvermoë van Alpha TT was opmerklik beter as die ander TT kultivars wat aangeplant was, sê Franco, en het die swaar drag peule goed hanteer.